Agrimark Logo
Agrimark Durbanville

Agrimark Durbanville

Jul 16th 2024
Agrimark Services
Deur: Danie Keet Fotografie: Mia Truter

Agrimark Durbanville is ’n eenstopbestemming vir produsente, dorpenaars, bouers en selfdoen-entoesiaste. Die winkel bied ’n groot verskeidenheid produkte, van koffie tot diesel, klere tot flesse, veevoer tot verf, kunsmis tot saad, en alles tussenin. Agrimark Durbanville se verbintenis tot kwaliteit en ’n uitgebreide produkreeks maak dit ’n noodsaaklike bestemming vir almal in die vallei.

Jannie Coetzee is ’n deurwinterde Durbanviller en die takbestuurder hier.

Deeglike voorraadbestuur is hier van kardinale belang, want dis ’n gewilde winkel onder stedelike inwoners en natuurlik die omliggende omgewing se vele produsente.

Jannie Coetzee, deurwinterde takbestuurder wat al sedert 1999 deel van Agrimark is, woon al lank in die omgewing en ken sy klante alte goed.

“Ons het ’n wyduiteenlopende klantebasis en mense uit alle vlakke van die samelewing maak van ons produkte en dienste gebruik. Buiten die landbou, wat hoofsaaklik uit produsente van wyndruiwe, saaigewasse, melk en lewende hawe, sowel as proelokale en restaurante op plase bestaan, is hier talle toeristebestemmings en trou- en onthaalvenues aan wie ons ’n verskeidenheid produkte verskaf. En natuurlik die dorpenaars wat van sover as Philadelphia af kom om huishoudelike produkte by ons te koop,” vertel hy.

In die verfsentrum kan klante feitlik enige kleur laat meng.

Jannie het Kleinsakebestuur aan die Kaapse Technikon gestudeer. Hy was vir baie jare die streekbestuurder van The Fuel Company, Agrimark se moedermaatskappy se brandstof-afdeling, wat landwyd 85 vulstasies bedryf. In 2023 het hy weer by Agrimark aangesluit.

“Dit is belangrik om deel van die gemeenskap te wees en ons is by twee baie aktiewe boereverenigings in die omgewing betrokke. Ons borg soms geleenthede, maar dit is belangrik om ook op sosiale vlak met ons klante kontak te behou en nie net in hulle plaaskantoor met hulle te gesels nie. So bou ons verhoudings wat sorg dat ons besigheid deurgaans ondersteun word.”

Die flesse is gewilde items en word soms as korporatiewe geskenke aangeskaf. 

Die winkel se rakke vertoon netjies en kreun onder die voorraad. Elke afdeling is maklik bereikbaar en die produkte word goed uitgestal. By die ingang van die winkel is daar ook ’n koffiewinkel waar klante koffie, warm sjokolade en ’n verskeidenheid versnaperinge soos heerlike vleispasteie kan koop. Die kasregisters is maklik bereikbaar en so geplaas dat die vloei in die winkel gemaklik is.

Daar is ’n aantal groot landbouprodusente wat al vir verskeie geslagte in die omgewing bedrywig is en wat Agrimark Durbanville lojaal ondersteun.

Wors en ander vleisprodukte van Phisantekraal Slaghuis word ook in die winkel verkoop.

“Ons landboubemarker, Antonie Janse van Rensburg, is baie na aan die klante en soms doen ek saam met hom besoek aan die plase. Hy is gelukkig daarvoor bekend dat hy enige navraag vinnig hanteer, gewoonlik op dieselfde dag, en produsente hoef nooit lank vir hom te wag nie.”

Die winkel bied benodigdhede vir die verskillende landboubedrywe aan soos ’n verskeidenheid veevoer, beeslek en voeding vir skape, wat die grootse gedeelte van die veebedryf in die omgewing uitmaak. Daar is twee store waar voorraad van produkte aangehou word sodat dit maklik bekombaar is en vinnig versprei kan word. Die groot stoor is net buite Durbanville en die ander een grens aan die winkel waar oorvloeivoorraad gehou word. Twee groot vragmotors en ’n bakkie word ingespan om aankope by klante af te lewer.

Vernon Marthinus help ’n klant met die uitsoek van ’n oorpak.

Die winkel het ʼ’n groot verskeidenheid veemedisyne en twee personeellede is spesiaal opgelei om klante van raad te bedien. Verteenwoordigers van die verskaffers besoek die winkel gereeld om personeel op hoogte te hou en te sorg dat die jongste produkte met die beste resultate op die rakke verskyn.

“Al hoe meer kleinboere besoek die winkel om ’n verskeidenheid produkte aan te koop. Ons let op dat baie van hulle entrepreneurs is wat die produkte dan weer in hul onderskeie areas gaan verkoop, terwyl hulle self ook boer. Ons doen ons bes om seker te maak dat ons goeie diens aan hierdie opkomende mark bied,” vertel Jannie.

Elliot Jantjies is die stoor-assistent en al baie jare hier.

’n Ander afdeling wat op aanvraag baie uitgebrei is, is persoonlike beskermingstoerusting, of PPE-produkte. Dit sluit items soos oor-pakke, handskoene, veiligheidskoene, waterstewels, en skermbrille in. Die Jonsson-klerereeks vaar ook baie goed en baie dorpenaars besoek Agrimark Durbanville gereeld om hierdie klere van gehalte aan te skaf.

Ander afdelings wat baie gewild is, sluit die buitelewe-afdeling in. ’n Klant het onlangs 41 Stanley-flesse kom koop om as korporatiewe geskenke uit te deel. Produkte vir die swembad, asook tuinmaak-benodigdhede soos saad, kunsmis, grawe en vurke, is ook gewild. Dis egter nie al nie. Daar is ook huishoudelike skoonmaakmiddels, motor-olies, Ingco-kraggereedskap, en selfs vars snoek en vleisprodukte van Phisantekraal Slagtery. Die rybaan met diesel- en petrolpompe agter die winkel is gewoonlik ook baie besig.

Eloise Apollis help klante in die Jonsson-klereafdeling.

In die afdeling vir boumateriaal kan stene, sand en sement bestel word en dit kan ook in grootmaat afgelewer word. Die verfafdeling is besonder gewild en bevat verf van Duram en Dulux. Daar is ’n toonbank waar klante verf kan laat meng om presies by hul kleurkeuse te pas. Rekord word van elke klant se kleure gehou sodat herbestellings maklik gedoen kan word.

Vernon Marthinus besig in die afdeling met swembadprodukte.

Agrimark Durbanville speel ook ’n rol in Agrimark se opleidings-program vir toekomstige bestuurders.

Thabo Kawe is tans besig met bestuursopleiding en hy het Agrimark Durbanville besoek om meer oor voorraadbestuur te leer.

Thabo Kawe het die winkel besoek om voorraadbestuur te bestudeer. “Ek is al 15 jaar by die maatskappy, maar dit is vir my lekker om meer oor die onderneming se werksaamhede te leer. Deur Agrimark se opleidingsprogram kry ek groter blootstelling aan dinge wat agter die skerms in ’n besigheid gebeur. Ek sien uit daarna om my vaardighede te gebruik om my loopbaan by Agrimark te bevorder en goeie diens te lewer,” verduidelik hy.

Charel Uys is die kenner in die dieremedisyne-afdeling.

Jannie is baie ernstig oor die personeel en hy glo dat almal die vrymoedigheid moet hê om met hom te kom gesels oor probleme en ook voorstelle vir die besigheid.

Marinda Wagenaar help by die kasregisters.

“As jy nie gelukkig in jou werk is nie, kan jy nie gelukkig in jou lewe wees nie. Personeel wat nie gemaklik voel om te gesels nie, is nie baie produktief nie en ook nie gelukkig by die werk nie. Hier is almal deeglik opgelei en enigeen kan in enige afdeling aflos sou dit nodig wees. Ons werk as ’n span saam om die mense van Durbanville te bedien. En na-tuurlik wil ek graag mense se voorstelle hoor oor hoe ons die besigheid kan help om meer te groei.”

Daar is ’n koffiewinkel by die winkel se hoofingang waar klante koffie en ander eetgoed kan kry.

Elliot Jantjies, ’n senior werker by die tak, is ’n sprekende voorbeeld van hoe praktiese landbou-ervaring nou tot voordeel van Agrimark aangewend word. “Ek was vroeër jare op Phesantekraal van Erhard Louw werksaam en ek en hy het saam daar grootgeword. Dis waar ek deur die jare dinge soos stiptelikheid, hoe om na jou implemente en voertuie om te sien en hoe om goed te kommunikeer aangeleer het – alles wat ek vandag hier kan toepas om goeie diens aan ons klante te kan lewer. Ek weet waarvan die produsente praat as hulle spesifieke landbou-items kom soek en ek kan hulle gou help of na die regte personeellid verwys wat die navraag of bestelling kan hanteer,” verduidelik hy.

Ashley Petersen help graag klante op die besige rybaan.

Agrimark Durbanville is duidelik ’n hegte span wat nie wegskram van harde werk nie, tot voordeel van die hele gemeenskap.

Agrimark Durbanville: Wellingtonstraat 30, 7551 | Tel: 021 976 3057